VAN VER PAAIE EN ‘N OU GȎGȎ

Meelbroeke hou my op die pad.  Weg van my huis, my mense my honde.  Baie soos sangers en ander reisigers.  Dus is die tuiskoms ná ‘n afwesigheid van ‘n week of twee, altyd soos daardie warm kombers van geborgenheid wat om my vou, die “Ahhhhhhh”-gevoel, die liefde wat ek hier om my voel draai. 

Die tye oppad is tog die tye wanneer ek dink.  Oor Meelbroeke, en veral Snowflake, se toekoms.  En oor die afgelope fees, oor die volgende een, en alles wat tussenin moet gebeur.  Oordenking, besinning en herbesinning.

Iets links voor in die pad vang my oog – ‘n stokou gôgô en vermoedelik haar kleinseun of selfs agterkleinseun.  Sy, krom van ouderdom, toegedraai in veelkleurige lappe, gesig verkreukel, pakkies op die rug, hand geklem om ‘n tuisgemaakte stok-kierie.  Hy, ongeveer agt of nege jaar oud, ronde wangetjies, kort, stewige lyf, blink oë, sy hand styf in Ouma se ander hand.  Hulle is oppad.  Waarheen, dit weet ek nie.  En teen 120km/uur, staan die wêreld vir my ‘n oomblik stil, asof gepause midde-in ‘n fliek.  Ons almal jaag ons byna dood.  Ons staan vroeg op, om laataand tuis te kom.  Ons leef oor die algemeen goed, daar is min wat ons nodig het en ons het baie wat ons nie nodig het nie.  Iewers verloor ons egter iets.  Iets langs die pad.  Die hiatus.  Daardie oomblik waarin alles tot stilstand kom, die sfeer waarin niks gesê hoef te word nie, waarin woorde onnodig is.  Ons verloor midde ons pogings om te oorleef, die goue oomblikke van eenvoud.  Om saam met Ouma te stap, die sonsondergang raak te sien, oë toe, daardie slukkie koffie te waardeer!  Ek is skuldig.  Die pogings om Snowflake op Meelbroeke se rak te kry, die min slaap, tye waarin telefoonoproepe, WhatsApp boodskappe en eposse my die mooi om my laat verloor.

Baie dankie vir die oorweldigende reaksie op die webwerf.   Ek probeer so gou moontlik op alle navrae  reageer.  Wees asseblief geduldig, ek bedryf ‘n eenvrou-besigheid, die antwoord op ‘n epos mag dalk bietjie sloer.  En ons is grootliks uitverkoop ná  Aardklop, voorraad sal weer teen die eerste week in November aangevul wees.  Elke item word handgemaak en gekleur, dit is nie massaproduksie nie, en neem langer om te voltooi as iets wat net van ‘n rak in ‘n afdelingswinkel gehaal word en nog na China ruik!

Só is Aardklop in ‘n ommesientjie verby!  Mense en was dit besig!  Dankie vir ieder en elk wat daar was…..vir elkeen se bydrae en heelhartige ondersteuning.  Die “ooh”s en “aah”s oor die dungarees en rokkies!  Dit het my wildste verwagtinge oortref!  Sonder júlle, die Meelbroek-liefhebbers, sou dit nie moontlik wees nie.  Dankie aan elke vreemdeling wat ‘n vriend geword het.  Dankie vir julle, wat nie konformeer nie, nie gewoon is nie, maar buitengewoon!  Júlle maak al die harde werk en opofferings die moeite werd!

Ek is tuis vir 4 dae voordat die wiele weer rol.  Daar is immers Meelbroeke wat gekleur en versend moet word! J  Snowflake is nou ook beskikbaar by Blomkind Hippieshop in Langenhovenpark, Bloemfontein asook Beach Bliss, Struisbaai. 

Mag jy ‘n hiatus ervaar in die gejaagdheid van ons lewe!  Mag jy die Meelbroek-kleure van die lewe in sy volle intensiteit ervaar, kom ons maak tyd om dit raak te sien!

Groetnis tot volgende keer.

Leave a Reply