2020

En toe ons ons oë uitvee, het ons 2020 visie!  Kersfees is verby, ons is boots & all binne-in die nuwe jaar, sommer ‘n lekker ronde getal, dit val maklik op die tong, skryf lekker en ons oueres sal dit sonder moeite onthou!

Dit is ook nou ‘n goeie tyd om julle voor te stel aan ‘n paar mense wat op een of ander manier betrokke is by Meelbroeke.  Hulle gesiggies gaan nou wel nie hierby verskyn nie, maar as jy ons by die feeste ondersteun, sou jy meeste van hulle al daar raakgeloop het.  Sonder hulle, sou ek gesukkel het om al die punte bymekaar te kry!

Henning, my ander helfte.  My klankbord, leningskonstultant en raadgewer!  Die raad en ondersteuning wat ek van jou kry, is van onskatbare waarde!

Santa, my sus.  My regterhand (soms albei hande!) by feeste.  Saam het ons al baaaaaie kilometers gery, baie gelag, BAIE hard gewerk, poegaai op die kampbedjies geval en more lyfseer aangegaan!  Elke oomblik ‘n goue oomblik!

Thomas, Jaco en Dienkie, my kinders. 

Thomas, die meesterbrein agter die webwerf en sosiale media bestuurder.  Ek kan maar net fotos, blogposts en idees vir hom stuur en hy laat die “magic” gebeur.  Jy is onmisbaar!

Jaco, die beste bemarker wat ek voor kon vra, in besonder by Innibos.  Dankie dat jy bereid is om jou alter ego op die voorgrond te sit wanneer jy ‘n meelbroek aantrek.  Die pret en plesier wat soos ‘n wolkie om jou hang, is ‘n opkikker vir ons almal!

Dienkie wat nie skroom om die ouer garde én die jongeres terstond nader te sleep vir oortuiging nie.  Jou positiewe geaardheid en sonnige persoonlikheid raak ons almal aan!

Estelle, hierdie Meelbroek malligheid is alles jou skuld!  Of dalk liewer die Meelbroek sukses?  Hoe dit ookal is, jy is my aanhitser, my muse, en my baie eerlike en reguit raadgewer.  Ek kan nie my lewe indink sonder jou nie!

En dan, die onsigbares…..die mense wat agter die naaimasjiene sit, dankie vir julle aandeel. Sonder julle was daar immers geen Meelbroeke nie!

Hierdie besondere jaar, 2020, hou reeds groot belofte in vir Meelbroeke!  Ons gaan ‘n paar nuwe feeste doen, hou maar net die webwerf en ons sosiale media blaaie dop vir meer inligting.  Daar gaan ook moontlik nuwe items op die rak verskyn, in die tweede helfte van die jaar en hier sal veral die manne ‘n kansie kry tot iets vir hulle!

As jy in Limpopo woon, of binnekort by die Haenertsburg Berry Festival gaan kuier, ons skop die jaar af met hierdie lekker nuwe een!  1-2 Februarie.

http://berryfestival.co.za/

Ons hoop dat ons jou binnekort by ‘n fees gaan raakloop, die kalender word vol!

Tot dan, wees veilig, werk lekker, kuier op die stoep met grooooot koppies koffie en soet namiddag-drankies.  Sit lewe in die tyd wat jou gegun word om te leef!

Groete,

Mari

Leave a Reply