Site icon Meelbroeke

GYPSIES

En daar loop ons die pad nou al amper 100 dae.  Dis ‘n rowwe pad hierdie.  Met klippe en gate en waterpoele en opdraandes en afdraandes.  Meer nog, dit is ‘n onbekende pad.

Ons klomp uitstallers, by feeste soos Innibos, Aardklop, KKNK, en vele meer, ry baie paaie.  Lang paaie en kort paaie, die alternatiewe roetes en meer dikwels die vinnigste roete om by die volgende plek staning te maak.  O, dit is ‘n lekker lewe!  As kind, het gypsies my fassineer.  Die vrye lewe, die karavane, klokkies om die enkels, helder kleure en baie lag en kuier rondom groot vure tot ligdag.  Tot ‘n groot mate, val uitstallers in hierdie kategorie.  Ons is tog maar gypsies, vrydenkendes en travellers.  Grootpad-genieters.  En vanaand, wanneer die besoekers aan ‘n fees huistoe gaan, skop ons die skoene uit en dans, soms denkbeeldig, en soms werklik, die lewe terug in ons moeë voete.

Dit voel nou of ons die hobbelrige pad in ‘n donkiekar aandurf.  En of daar baie doodloopstrate is waarin ons onsself bevind.  Ons sien nie die (pad)tekens altyd so mooi nie. MAAR ons is mense met inisiatief en ons het gespring om planne te beraam om die gate en hobbels te systap!  Tesame met die hulp van sommige feeste en ander platforms, doen die meeste van ons flink besigheid aanlyn.  Ons sal ons nie laat onderkry nie en ons is baie dankbaar vir mense wat ons as uitstallers die geleentheid gee om steeds besigheid te doen deur die moontlikhede daar te stel. 

Op hierdie stadium is daar een wat reeds in werking is, Innibos se BOSWINKEL.  Daar kan jy gaan rondkyk en kuier tussen al die stalletjies.  Onthou dat Innibos se nuwe datum in Desember val – 16-19 Desember 2020.  Moet dit nie mis nie!

Meelbroeke sal op ‘n gereelde basis die lys hier aanvul, soos die platforms beskikbaar word.  Dankie dat jy ons steeds ondersteun, dis waarom ons kan voortgaan!

Ons weet nie wat voorlê nie, maar ons klompie gypsies mis die feeste, die besoekers, die kleure en klokkies en magic! 

Mag ons mekaar gou weer sien!

Liefde,

Mari

Exit mobile version