Die Snowflake-werf

Dis middernagdonker, die lekker stil tyd van die dag en die ideale tyd om bietjie tyd te maak vir ‘n skrywe op die werf.  Die webwerf.  Tog, baie soos ‘n plaaswerf, is die Meelbroeke werf ‘n besige plek!

Die groot nuus hierdie jaar is dat ons troue gehou het!  Jip, ons eie Thomas, Sosiale Media Bestuurder, en sy Dienkie is op 21 Februarie getroud, ná ‘n warrelwind-verlowing op 25 Desember 2020!  Ons moes spring om alles gedoen te kry, maar ons het dit gedoen!  Geniet die klompie fotos wat ons opsit, Snowflake was ook daar…..en waar dan beter om te trou as by Snowflake in Potchefstroom?  Elke oomblik ‘n meesterstuk!  ‘n Mooier bruid kon ons beswaarlik kry en die bruidegom…..deftig!

Die Meelbroek-span het nie stilgesit in die laaste paar maande nie en jy kan nou soveel meer as net broeke kry!  Behalwe rokkies en dungarees, het die reeks uitgebrei en sluit nou ook oulike rafelrand-hoedjies á la plaaswerf, in!  En ná baie navrae, ook hemde, sommer vir oor die kop gooi gemak.  Dit alles is te sien by die fotos.  Maak seker op die Sizes blad dat die afmetings reg is vir jou!  Moenie dink dat dit hier gaan eindig nie, die jonges op die Snowflake-werf het planne wat nie einde het nie!

Daar was ‘n paar veranderinge wat winkels betref, en ‘n paar nuwes het by gekom.  Gaan kyk gerus op die Retailers blad vir een naby jou.  Vir Pretoria is daar ‘n belangrike aankondiging – daar is ‘n winkel in Irene Village Mall wat verskeie uitstallers se goedere aanhou, ondersteun die winkel asseblief, die gebrek aan feeste laat ‘n groot leemte in ons lewens.

Dit gesê, is daar letterlik honderde klein markte wat reg oor die land opskiet.  Ekself doen heelwat van hierdie markte in die Pretoria en Laeveld, maar die Meelbroek handelaars word aangemoedig om dit ook te doen.  Gaan kuier gerus by die markte. 

Dankie vir jou liefde vir die produk, dankie vir jou volgehoue ondersteuning en geselsies by die markte, dit maak my hart warm om te weet dat julle só gemaklik voel in ons produk.  My deur is altyd oop vir ‘n kuier of ‘n vinnige “hallo” op WhatsApp.  Ek hoop om sommer baie meer van julle te hoor.

Geniet die troufotos – en kom kuier by ‘n mark!

Groetnis

Mari

One thought on “Die Snowflake-werf

Leave a Reply