GEMAKSONE….DIE PLEK WAAR NIKS GEBEUR NIE

Die afgelope paar weke was die leerkurwe bietjie minder steil, maar tog het ‘n paar lesse hulleself tuisgemaak in die lewe van Meelbroeke.  Ek deel dit graag met julle.

Onlangs, toe ek my getroue bakkie (sommige noem dit liewer ‘n trokkie) laat diens, sit daar ‘n jong man oorkant my en wag vir sy voertuig.  Voor hom, ‘n stapel papiere.  Regs van hom, drie van daardie vouer-leêrs, die soort waarin papiere soos dié voor hom gebêre word.  Links van hom, ‘n skootrekenaar en by sy regterhand, ‘n sterk koppie koffie.  Die ordelikheid van dit alles val my op.   Ek wonder toe so in die stilligheid of dit nie die tipe werk wat in ‘n kantoor hoort nie?  Iets wat ‘n sekretaresse of admin persoon behoort waar te neem?  Hy raak aan die gesels met een van die dames van die werkswinkel-kantoor en ek hoor die frustrasie in sy stem.  “Ek wil nie hierdie doen nie”, “Ek wil hier uit”, “Dit raak te veel vir my”.  Voel ons nie maar almal so, op een of ander stadium van ons lewe nie?  Die admin van die lewe raak te veel, die organisering, pogings om die boeke te laat klop, die aanslae op ons persoonlike lewe, en, les bes, die frustrasies om in ‘n plek te wees waar jy nie wil wees nie!   So graag as wat ons almal wil, is roomys verkope op ‘n goue strand net nie lewensvatbaar nie.  Dus droom ons en wens ons dat daar iewers, iewers ‘n verligting sal kom van die vinnige stadslewe of van die drukte van die korporatiewe sektor.  Sommige gelukkiges kry dit reg om alles te los en êrens vir hulself ‘n rustiger lewe uit te kap.  Hulle is min.

Later, toe ek groet, praat ek ‘n rukkie met hom en besef dat ek eintlik gedoen het waarvoor ek altyd gewens het.  Ek is my eie baas.  WOW!  Hoe het dit gebeur?  Skielik het die wete my tussen die oë getref!  EK LEEF MY DROOM!  Die droom om ‘n eie besigheid te bedryf.  Die droom om uit my gemaksone te stap.  Die droom om totaal ‘n ander rigting in te slaan as waarin ek gemaklik gevoel het. 

Dit het baie lank geneem om tot hier te kom.  Om elke element van Snowflake te bring tot op die punt waar dit nou is.  Bloedsweet en trane, ontelbare telefoonoproepe, moeilike besluite.  Maar dit was elke oomblik se finansiële benoudheid (wat nog nie verby is nie!) die moeite werd!  Mag elkeen wat ‘n Snowflake broek of rokkie of dungaree aantrek, smag na meer.  Dit IS, sonder twyfel, die gemaklikste klere!  Dankie dat julle die pad saam stap.  Moenie ophou om terugvoer te gee nie, ons luister!

En wanneer jy op die punt kom om ‘n besluit in jou lewe te neem, wat jou uit jou gemaksone skop, doen jou huiswerk goed – en neem die eerste stap!  Die res sal volg…….

Ons is trots om julle te vertel dat Snowflake binnekort beskikbaar is by Just Blossom in Pongola, besoek hulle gerus as jy naby is.

En ons is van 24-28 September by Aardklop in Potchefstroom.

Groetnis tot volgende keer!

Leave a Reply