MEEL EN SUURDEEG

Die jaar spoed voort teen ‘n tempo wat algaande vinniger word. Aan die begin van elke jaar staan ons voor ‘n magdom besluite wat ons moet neem. Maer word om in dáárdie Meelbroek of Meelrokkie te pas, geldjies opsysit om hierdie of daardie spesiale item te koop, na watter skool of kleuterskool my kind moet gaan, en, les bes, hoe kan ék die wêreld vir myself en andere ‘n beter plek maak? Hoe word ek gelukkiger?

Die vinnige antwoord is sekerlik – TREK ‘N MEELBROEK AAN! As jy reeds een of meer het, sal jy die gemak van hierdie klere verstaan, dis aantrek, uittrek, was en weer aantrek! As die wêreld ‘n beter plek kon word deur almal wat Meelbroeke dra, sal ons verseker ‘n verskil kan maak! Lank gelede, in die 1980’s was daar ‘n reeks gesegdes wat die rondte gedoen het, jy sal dit dalk onthou as jy tóé ‘n tienier was. Liefde is…..en dan volg wat ookal nodig was om gesê te word. Liefde is….drukkies, Liefde is….die eerste koppie koffie en so kan ek aangaan. Kussingslope, sleutelhouers en wat nog alles was bedruk met Liefde is…. en kon jy vir jou geliefde ‘n hele rits boodskappe stuur. Ons kan dus aankondig : Liefde is…..om ‘n Meelbroek aan te trek!

En met ‘n Meelbroek aan jou lyf, watter verskil voel jy? Jip, dis gemaklik. En koel. En cool. En so aan, maar die eintlike geluk lê tog binne die Meelbroek. Die eintlike waarde lê dus binne die Meelsak. As die meel in die Meelsak nie meer gebruik kan word nie, word die sak sommer ook weggegooi.

Ons, hier by Meelbroeke, hoop dat dit wat binne ons klere is, goeie meel is. En wat is meel sonder suurdeeg? Omdat ons uitgesproke oor ons Christenskap is, glo ons dat die suurdeeg van geloof, elkeen van ons (wat die meel is) deurtrek, sodat ons dwarsdeur ons Meelklere as gelowiges geëien kan word. Lukas 13:20-21 “Waarmee kan Ek die koninkryk van God vergelyk? Dit is soos suurdeeg wat ‘n vrou geneem en in twintig kilogram meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”

Mag elkeen wat hierdie jaar ‘n stalletjie besoek of ‘n Meel-kledingstuk aankoop, die Koninkryk van God deur ons by Meelbroeke, se handeling ervaar. En my wens vir jou is geluk, sodat ook jy deur jou Meelklere die Lig laat skyn. Dít is tog ware geluk!

Groetnis
Mari

Leave a Reply