Dankie Hartenbos!!

Een van die eerste dinge wat ons leer wanneer ons klein is, is om te tel.  Een glas koeldrank, twee koekies.  Hoeveel vingers?   Een… twee… drie… vier… vyf!  Hoeveel slapies tot ons by Ouma gaan kuier?  En so aan.  Dit is dieselfde, jaar ná jaar, vir die eerste jare van ons lewe.

En dan, baie jare daarná, tel ‘n mens in omgekeerde orde, die slapies totdat die mark in Hartenbos begin.  Dit was ons eerste mark in Desember in Hartenbos .  Dis lank weg van die huis en om alles te kroon, hoe op aarde bereken ek die hoeveelheid voorraad wat moet saam?  Amper te vinnig glip die dae vooraf verby, want daar is baie te reël en baie onsekerhede.  Sê nou dit voldoen nie aan verwagting nie?  Sê nou dit reën heeltyd?  Sê nou ek neem nie genoeg van die regte style en kleure saam nie en, les bes, sê nou ek het nie genoeg voorraad nie?  Laat nagte en wakkerlê word my voorland en die ou duiwel grawe met sy vuil vinger al in my gedagtes rond oor alles wat kan skeefloop.

Maar uiteindelik, soos met alle dinge, is die tyd verby en lê die pad oop deur die Karoo.   Baie uitstallers was reeds daar toe Meelbroeke opgehang word, tog voel ons slaggereed aan die buitekant en steeds twyfelend binne-in. Ry op ry hang die Meelklere in hulle geil, glorieryke vakansiekleure – en nét daar begin ons weer tel!

Sommer binne die eerste paar dae weet ons dat alles waaroor ons in die donker bekommer, vinnig uitgestryk is!  Die klere en kleure vlieg 1-2-3 by die stalletjie uit.  Mense, oud en jonk, daag twee-twee en drie-drie op, bring later familie en vriende wat óók wil klere hê.  Ons beker loop oor.

Dit bring my by die syfer 4 (vier).  Eendag, lank gelede, was daar vier susters.  Die een is mooier as die volgende.  En twee van hulle word vinnig baie spesiale vriende van my.  Nié omdat hulle amper elke kleur lang dungaree besit nie, maar omdat hulle soveel tyd in die stalletjie deurbring en ek hulle op ‘n baie besondere manier leer ken.  Die dae wanneer Anneliese en Susan kom inloer, word lekkerlagdae onder die sambreel van Meelbroek-liefde.  Geniet hulle fotos wat ek aanheg.

Vinnig spring die syfer na die honderde (100e!), want dit is soveel gelukkige Meelbroekdraers wat by die stalletjie aangedoen het en ‘n geselsie vir ‘n minuut of twee gemaak het.  Sommige het ek by die naam leer ken en onthou van vorige raakloopgeleenthede.  Sommige het bekende gesigte geword, sonder dat ons ooit name uitgeruil het.  Baie kom koop ‘n 3e, 4e, 5e broek.  Baie kom koop vir die eerste maal.  Nóg meer kry ‘n item in die Kerskous.

So het die Hartenbos-markdae verbygegaan, die een in die ander gevleg tussen die menige dae wat ek vroeg-oggend George toe moes ry om nóg natural, oftwel wit, broeke te gaan oplaai by die koeriers.  En teen twee-uur vanmiddag weet ek dat ek alweer te min bestel het!

Daar was staatmakers by die huis wat die wiele aan die rol gehou het.  Baie dankie aan Henning, Santa, Ma Cecile en Lina wat menige broeke deur hulle hande laat gaan het.

Dankie aan Courier Guy wat nooit teleurstel nie, deurentyd afgelewer het, selfs op ‘n Sondag.

Dankie aan Jaco en Robyn wat kom handgee het by die stalletjie en dankie Jaco, dat jy oudergewoonte nie teleurgestel het nie, maar oud en jonk vermaak het met jou vrolikheid en “shenanigans”.  Jy is geliefd.

Die grootste, vetste dankie aan jou, die Meelbroek-aanhanger.  Sonder jou is geen van hierdie dinge moontlik nie en jou volgehoue liefde vir die produk spoor ons aan tot meer en groter, daar is baie op die agenda vir 2022.  Dinge waarvoor julle gevra het, sal ons vir julle gee.  Hou ons sosiale media dop vir opdaterings!

Daar is nie een enkele dag dat ek nié verstom staan oor die absolute genade en oorvloed wat Meelbroeke uit die hand van die Vader ontvang nie.  Ek kan nie dank aan Hom in dieselfde asem noem waarin ek mense bedank nie.  Alles wat ons het en alles wat ons is, is alleen genade.  Aan Hom kom alle eer toe!

Mag 2022 vir jou en jou mense ‘n besondere kleurvolle jaar wees.  Laat elke dag tel.

Liefde

Mari

Leave a Reply